Pages

Thursday, January 19, 2012

Avontoerlustig


My oë dwaal in die rigting van die venster. ‘n Toring rook wriemel op die verste grens. Ek staan nader en verbeel my ek sien ‘n swart vlag kompleet met ‘n skedel daarop bo die geboue uitstyg. Ek glimlag by myself, want ek weet dit is hier.

Daar is ‘n geweldige gedreun soos twee massiewe skepe deur die straat ploeg asof dit niks minder as net sand is nie.‘n Magdom mense staan orals op die sypaadjies, oopmond en piering oë na die spektakel en kyk. Dan is daar stilte.

Ek voel die kreet voor ek dit hoor. Die wêreld bars in ‘n oomblik in chaos uit. Seuns in skinny jeans en meisies met kleurvolle rokke spring uit in die strate en sak toe op al wat ‘n gebou is. ‘n Algehele vrygeestigheid heers oor die massas. Daar is ‘n embleem op party se hemde wat vaagweg bekend lyk.

My oë gly oor my weerkaatsing. ‘n Oogklap en baard is nou deel van my voorkoms.

“Dit kan nie wees nie”,sê ek vir myself.

“Dit kan nie wees nie”, herhaal dit op my skouer.

Ek hoef nie om te kyk om te weet dat dit ‘n papegaai is nie.

‘n Sterk drang om by die skare aan te sluit kry my beet, maar dit blyk onmoontlik te wees om ‘n deurknop met ‘n hoek vir ‘n hand baas te raak. Ek kyk vir ‘n ander uitweg. Die deur gee maklik in toe my hout been daarmee kontak maak.

Ek is buite in die chaos wat ‘n Justin Bieber konsert na ‘n nagmaal diens laat lyk. Almal kyk na my. Vir ‘n oomblik vergeet ek van die werklikheid en ek weet dat ek nou ‘n seerower is. My hand gryp na my swaard en…

Ek word wakker. Die bladsy voor my is nog net half vol woorde. Ek sug en tel weer die pen op.

Met werk en roetine wat nou reeds vroeg in die jaar hul gesag op ons afdwing, is die somer vakansie definitief iets van die verlede en al wat ons kan doen terwyl ons nou in ons skoolbanke en agter ons lessenaars vasgevang sit is om aan die herinneringe te herkou. Ons oorgee aan ‘n stom reverie van son, sand, see en lekker tye. Om my geheue te verfris oor onlangse gebeure op die 6de MK Avontoer het ek met die manne van Zinkplaat en DPK gesels oor hul gevoel van 2011 se toer.


1. Geluk dat julle nog ‘n toer oorleef het. Sal julle hierdie jaar se toer as ‘n sukses bestempel en wat bepaal ‘n suksesvolle toer?

Dit was inderdaad ‘n sukses. Ons meet dit maar aan of almal lewendig terugkom, dat daar mense by die shows was en dat die bands dit geniet het. Daar was al toere wat suksesvol was, maar baie geld verloor het, maar hierdie was gelukkig nie so nie.

2. Die top 3 (indien dit moontlik sou wees om dit so te rangskik) oomblikke van hierdie jaar se Avontoer?

As ek nou drie lukrake oomblikke uit my kop moet trek sal ek gaan met:

· Die partytjie in ons kampplek langs Groot Brak se rivier, toe die Jagermeister trok daar kom parkeer het en daar lekker tunes was, en die seerowers ‘n sokker game gespeel het, en later was daar lekker kampvuur jams en net ‘n algehele moerse jol!

· In Struisbaai het ‘n mal oom vir Die Tuindwergies aanhou drinks koop sodat hulle die hele aand in ‘n kroeg vir hom en die res van die klante speel. Later het sy vrou daar ingekom en gevra dat die barman die oom se tab asb by R7000 afsny!

· Soos een van die busse (die ouers een) in Stilbaai ingery gekom het, het een van die Seerowers, Le Roux, ‘n akoestiese kitaar nader gehark en ‘n paar classics begin jam, en kort voor lank was die hele bus kliphard besig om Johnny Cash se “Ring of fire” te sing. Dit was bedonnerd!

3. Is daar een oomblik wat die toer se gees kan opsom en wat sal dit wees?

Daar is so baie, maar ek moet bieg dat om al die seerowers en bands te sien meng backstage by Diaz Strand se konsert was nogal iets. Die backstage area was net ‘n afgebakende grasperk waar almal gechill het, en dan as elke band opgekom het om te jam, dan het almal voor die stage gaan staan om hulle te ondersteun. Baie gees.

4. Afgesien van al die organisering en beplanning wat so toer behels, sou mens dit nogsteeds as werk kan klassifiseer of is dit net ‘n goeie verskoning om ‘n goeie tyd te hê?

Die idee is dat ons hard werk sodat almal anders ‘n moerse lekker tyd kan he. Dis basies soos ‘n vakansie vir al die bands, waar hulle kan chill en jam soveel as wat hulle wil. Ons kry darem ook tyd vir swem en kuier en jam, so dis altyd lekker.


5. Julle bevind julle beide voor, as ‘n band, en agter, as organiseerders, die skerms. Is dit moelik om beide rolle te vervul en keer dit julle enigsins om net so hard soos die ander bands die toer aan te pak?

Dit was vorige jare nog moeiliker as ons bv by die deur moet werk tot 5 minute voor ons moet speel, maar deesdae het ons ‘n baie goeie span wat daai werk namens ons doen sodat ons darem net ‘n lekker band huddle kan doen so 10 minute voor ons speel. Dis soms moeilik om uit ‘n organiseerder ingesteldheid na ‘n band ingesteldheid te skakel, maar hierdie jaar het ons dit lekker reggekry.

6. Met ses suksesvolle aflewerings is Avontoer nou ‘n somer instansie in eie reg. Dink julle daar is nog ruimte vir groei of is die Avontoer nou ‘n selfgedrewe entiteit wat op eie stoom sal voortgaan om mense te lok?

Daar is altyd ruimte vir uitbreiding. Persoonlik sal ek graag een jaar in plaas van 2 busse, eerder een groot dubbeldekker wil vat. My ander droom is om ‘n boot te vat en teen die kus af te toer met 130 REGTE seerowers! Ons het hierdie jaar vir die eerste keer ‘n internasionale band, Kongos, by ‘n Avontoer show gehad, so dalk kry ons volgende jaar vir Bruce Springsteen.

7. Met verloop van tyd en die gewildheid van die toer wat toeneem, raak dit al moeiliker om te kies watter bands saamgaan?

Dis altyd moeilik. Ons kry letterlik honderde inskrywings en baie van daai sal perfek wees vir Avontoer, maar ons het beperkte plek en moet dit vars probeer hou. Dis defnitief die moeilikste deel van die hele post-toer organisering.

8. Hoe keur julle veral die minder bekende bands?

Daar is baie dinge waarna ons kyk, en ons borg, MK, help baie daarmee, maar bands moet basies ‘n hype om hulself vorm en ‘n unieke vibe he. Dis moeilik, maar moontlik.

9. Daar word baie klem gelê daarop om mense by die Avontoer te betrek met die groep Seerowers wat julle saam oor die land karwy (die gees van die toer seker die beste verpersoonlik). Dink julle dit is juis nodig om mense in so rol te betrek om die sukses van die toerte verseker?

Absoluut. Die Seerowers is die hart en siel van die toer. Daar is niks soos om in ‘n kusdorpie in te rol met ‘n 130-man posse by jou nie.

10. Het julle julself al ooit aan regte seerower aktiwiteite oorgegee op die toer?

Ons was al van voor Die Eerste Avontoer af besig met Seerower aktiwiteite. Daai “Doen dit self” mentaliteit was nog altyd deel van ons vibe en om trokke of busse in die hande te kry, self te bestuur, vreemde dorpies in te val, wyn te smous, CD’s te ruil vir kos, op vloere te slaap en om enige plek te kan partytjie hou was nog altyd deel van die vibe.

11. Met die toer wat sekerlik ‘n hoogtepunt op meeste van die dorpe waar julle stop se fees kalender is, het enige ander vakansie bestemmings al belangstelling getoon om ook hulle dorp op die roete te plaas? Kan die toer nog uitgebrei word?

Ek dink dorpies is soms bang vir ons, tot hulle ons binnelaat en sien dat ons bring ‘n goeie vibe. Ek dink soms dat ons klein kusdorpies se ekonomiee baie help as daar ‘n 130 mense op die plaaslike kafee toesak, of ‘n restaurant oorneem. Ons kan defnitief uitbrei. Hierdie jaar was bv. ons eerste jaar in Struisbaai en dit was ‘n moerse sukses.

12. Is dit moontlik om een dorp of show uit te sonder as “the most memorable”?

Nee. Veral nie hierdie jaar nie. Elke konsert was puik. Die bands het lekker gejol, die weer het saamgespeel en die mense het gekom.

13. Is daar al klaar planne om die 7de Avontoer groter en beter te maak?

Verseker! Ons het reeds bands en seerowers wat ons gekontak het om aanboord te klim.


Foto's Deur Mark Reitz