Monday, June 13, 2011

Annie Klopper : Die vrou agter die bende




Om ‘n storie te kan vertel verg nie veel moeite nie, maar om ‘n storie goed te kan vertel is ‘n kuns en dit blyk dat Annie Klopper hierdie kuns deeglik onder die knie het. Met die uitreiking van Fokofpolisiekar se biografie, Biografie van ‘n Bende, word die storie van een van Suid Afrika se grootste acts op ‘n kleurvol en treffende wyse aan mense blootgestel. Op plekke lees dit soos fiksie en menig ‘n skrywe sal nie skroom om sy/haar arm of been te gee om self met so interessante, meevoerende en boeiende storie vorendag te kom nie.

Die boek gaan nie net aanklank vind by fans van die band nie, maar by enige iemand wat in musiek belangstel of van ‘n goeie storie hou.

Gevra of sy self dit aan die anderkant van ‘n vraagteken sal waag, het sy dadelik ingestem. Lees meer oor wat die skrywer te sê het oor haar nuutste pennevrug wat die mense nog lank aan die praat gaan hou.

1. Het enige iets dramaties verander in die lewe van Annie Klopper vandat Biografie van ‘n Bende uitgereik is?

Dalk nie dramaties nie, maar wel traumaties. Dis nogal traumaties om nie meer besig te wees met hierdie boek nie – dit was ’n projek baie na aan my hart.

2. Wat vir my veral uitgestaan het is dat ek vir baie van die gebeure daar was en dus met die boek kon assosieer. Dink jy die boek dal aanklank vind by ‘n breër gehoor en nie net fans van die band nie en was dit op ‘n spesifieke gehoor gemik?

Ek het dit probeer skryf sodat fans ’n baie intieme blik op Fokofpolisiekar se geskiedenis en loopbaan kan kry, maar ook op ’n manier sodat enige persoon (of hulle al ’n Fokof-liedjie gehoor het aldan nie) dit kan lees as ’n verhaal. Die voordeel in laasgenoemde verband is dat hierdie ouens se storie al die elemente van ’n uiters goeie plot bevat: drama, hoogtepunte, laagtepunte, humor, aksie, liefde, geweld … noem maar op. Self kon ek nie ’n beter plot uitgedink het nie! Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie.

3. ‘n Mens kan uit die biografie aflei dat jy voorheen met die manne van die band bevriend was. Het dit enige effek op die skryf van die boek gehad? Het dit die proses makliker of moeiliker gemaak?

Definitief het dit ’n effek gehad. En ’n meer positiewe as negatiewe een. Ek sê ook sonder skroom dat ek nie my tyd sou mors met die skryf van hierdie boek indien hierdie vyf ouens nie ’n groot effek op my persoonlik gehad het nie. En almal wat dink my vriendskap met die band maak my subjektief en is dus ’n slegte ding, het obviously nog nooit ’n projek soos hierdie moes aanpak nie, want dit sou haas onmoontlik wees indien vriendskap en vertroue nie in die mix was nie. Van die begin af was dit vir my belangrik om met respek te werk te gaan, en omdat hulle my ken en vertrou, het hulle oopgemaak, alles gedeel en geweet ek sal alles in my vermoë doen om daardie inligting akkuraat en met die nodige sensitiwiteit (of andersins met die nodige kragtigheid) weer te gee. As ons nie vriende was nie, sou ek nooit al die inligting uit hulle kon kry of toegang tot die binnekamers van hulle ouerhuise gegun word nie.

4. Van objektief tot subjektief, van onderhoude met mense voer tot onderhoude toestaan. Was dit ‘n vreemde sprong om te gemaak het en watter rol verkies jy?

Dit is natuurlik baie vervullend om te sien hoe mense die boek koop en dis gerusstellend om byna daagliks positiewe terugvoer van lesers te kry. Maar om die boek te skryf was definitief lekkerder as om dit na die tyd op boekrakke in winkels te sien. En ja, aan die begin was dit weird om nou aan die ander kant van die mikrofoon of kamera te wees, maar ten minste respekteer ek nou altyd die onderhoudvoerder.

5. Suid-Afrikaanse musiek beleef oor die afgelope paar jaar ‘n bloeitydperk, met al hoe meer oorspronklike kunstenaars wat na vore tree. Kan dit vergelyk word met enige ander tydperk in musiek geskiedenis?

Toe Fokofpolisiekar op die toneel verskyn, het ek gedink hierdie Afrikaanse punkrock-revolusie is soos toe die Sex Pistols die Britse musiekwêreld op horings geneem het. (Nie dat Fokof se punk dieselfde punk as destyds was nie, ek praat meer van die impak op die plaaslike bedryf.) Maar mense wat in die laat-1980’s daar was toe Voëlvry begin het, het seker weer gedink Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis is daardie revolusie. En inderdaad was hulle. Daarteenoor was die Musiek en Liriekbeweging van die laat-1970’s ’n revolusie in sy eie reg, met Afrikaanse “folk” wat ’n belangrike weg vir die toekoms gebaan het. Ek dink as jy kyk na Afrikaanse musiekgeskiedenis is daar dus (tot ’n mate) vergelykbare hoogtepunte, maar niks wat kom by die ekstra spin wat tegnologie, die postmoderne, postapartheid en globale samelewing op die hele besigheid sit nie. Dis nou nie bloot revolusionêr in terme van styl nie, dis eerder soos ’n aar wat gebars het.

Maar die opbloei van kunstenaars die afgelope tyd, het ook sy gevare. Soos KOBUS! sing: “Elke Jan Rap en sy maat het ’n CD op die rak / ons verstik aan al die “treffers” hoe belaglik of hoe swak.”

6. Met so baie bands wat uit die Kaap uit stroom, wie volgens jou moet in die toekoms dopgehou word?

Hulle kan maar lekker stroom, ek soek eerder graag na die meer underground goed soos Thomas Krane uit Durban. En dan is daar die beautiful eerlike klank van Wrestlerish uit Pretoria. ’n Rimpeling op die watervlak het ’n mooier effek as ’n malende stroom. Dis belangrik dat mense nie daardie stroom volg nie en eerder iets uniek en onkonvensioneel doen.

Ander CD’s wat tans by my draai is Willim Welsyn, Bittereinder, Eckard Potgieter (Afrikaans se eie underground Leonard Cohen) en nog steeds Jack Parow se debuutalbum van verlede jaar.

7. Annie Klopper die joernalis, Annie Klopper die skrywer, Annie Klopper die digter, Annie Klopper die redakteur. Is daar een baadjie wat jou beter as die ander pas of is die lyne tussen die verskillende uitlaatmediums so dof dat dit op dieselfde ding neerkom?

Wanneer iemand vir my vra wat ek “doen vir ’n lewe”, is daar altyd ’n rukkie stilte voordat ek die vraag kan beantwoord. Dis nie omdat ek ’n gewyde oomblik wil skep nie, dis ek wat bereken of aan hierdie persoon kan of hoef te verduidelik dat ek dit nie die antwoord in een woord of selfs sin kan opsom nie. Selfs my redakteurskap, wat op my besigheidskaartjie staan, is nie ’n maklik verduidelikbare werk nie. En dan is daar nog al daai ander stuff. (Op bankvorms word my beroep geklassifiseer as “other”.) Ek het nou al besef dat dit eintlik maar alles een baadjie is – ’n baadjie aanmekaar genaai deur woorde.


8. Jy het al in verskeie van jou artikels genoem dat Bellville jou lewe onherroeplik verander het. Indien jou familie nooit na die noordelike voorstede van Kaapstad verhuis het nie en jy jouself op net nog ‘n klein dorpie bevind het, wat dink jy sou jy vandag gedoen het of dink jy dat jy nog steeds by musiek betrokke sou gewees het?

Ek het my ouers se platespeler op die ouderdom van vier gebreek, want ek wou aldag en heeldag plate luister, maar het nie ’n clue gehad hoe om die platespeler te laat werk nie. En op laerskool het ek allerhande ruiltransaksies aangegaan met my skoolmaats om mix tapes van hulle ouer siblings se CD’s te bekom. Die oomblik toe ek Kaap toe trek, was die toegang tot musiek makliker. So dit het definitief ’n groot verskil gemaak om te verhuis, maar ek glo graag dat ek selfs op die klein myndorp sou voortgaan om naarstiglik op die spoor van musiek te bly. Die tyd daar het gelukkig die musiekwêreld baie meer romanties laat lyk en ek kon dit meer waardeer om uiteindelik die kans gegun te word om naby aan ’n lewensaar daarvan te beweeg.

9. Jy het nou jou eie regtelike plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Is daar enige iemand na wie jy nog opkyk en wat jou inspireer, plaaslik of internasionaal?

Ek word daagliks deur iets of iemand anders geïnspireer, en dis nie noodwendig musikante of skrywers nie, maar bloot mense wat daarin slaag om ten spyte van uitdagings hulle volle potensiaal te bereik. Dis mense wat hulle gatte lig en hulle drome volg. En dis mense oral om ons wat dikwels ongesiens uitblink in dit waarin hulle goed is. As daardie persoon boonop onwrikbare lewensvreugde en vrede het, het ek groot respek daarvoor – want dis moeiliker om te verwerf as bekendheid.

10. Met so baie akteurs wat musikante probeer wees en so baie musikante wat hul lyf akteur wil hou, het jy dit al ooit oorweeg om self by ‘n band betrokke te raak?

Kitaar speel of sing is my meditasie, nie my ambisie nie. Omdat ek ook weet hoeveel guts dit verg om soms selfs voor vriende te speel, respekteer ek mense wat op die verhoog klim en hulle harte in note blootlê. Selfs al klink dit dalk vir ons sleg, is dit daardie persoon se passie. Daarom is ek uiters versigtig wanneer ek musiek resenseer en probeer ek altyd van verskeie hoeke na musiek luister.

11. Ongeag die hoeveelheid tyd wat jy spandeer om oor bands en gebeure te skryf, sal jy dit streng as werk klassifiseer of is dit te lekker om werk te wees?

Toe ek ’n student was, was dit ’n belangrike inkomste – wanneer ek wel daarvoor betaal is! Maar dit was nog nooit iets wat ek voltyds gedoen het nie. Omdat ek dit nie voltyds doen nie, is dit moeilik om te klassifiseer as werk. Ek beskou my dagtaak as redakteur by Protea Boekhuis as my (terloops baie lekker) werk en ek is nogal kieskeurig oor watter bands ek deesdae gaan kyk en waaroor ek skryf. Daar is nie slegs min tyd daarvoor nie, maar ek hoef ook nie oor alles te skryf nie, omdat dit nie my werk is nie.

12. Dit is wel bekend dat Biografie van ‘n Bende ’n uitvloeisel van jou M.A. verhandelinge was, maar kan ons soortgelyke uitgawes in die toekoms verwag?

Aangesien ek nou die laaste bietjie sap uit Fokofpolisiekar as onderwerp getap het, kan ek eindelik na nuwe onderwerpe kyk. Ek moes eers die hele storie uit my sisteem kry. Nou is die ooglopende keuse nog ’n musiekbiografie en o my siel daar’s ryke stof, maar ek wil graag ook eksperimenteer met fiksie. Of die twee gaan ontmoet, weet ek nie. Maar as ek al een ding geleer het, is dit om altyd oopoë en op ’n gereedheidsgrondslag te wees, want toe ek in 2004 die eerste keer met Fokofpolisiekar ’n onderhoud gevoer het, sou niemand my kon vertel watter impak daardie ontmoeting uiteindelik sou hê nie.


* Foto's deur Liam Lynch

No comments:

Post a Comment