Pages

Thursday, May 5, 2011

Gypsy Bloudruk

Singer song writer, Gavin Coetzee, stap nou al ‘n lang pad met sy kitaar in die hand en is stadig maar seker besig om vir homself ‘n toekoms oop te kloof, een noot op ‘n slag.
.
 
Vir die beskeie boorling van Kaapstad, deesdae Houtbaai, was musiek nog altyd deel van sy lewe en hoop hy om dit nog ‘n groter deel daarvan te maak. Hy praat graag oor die jaarlikse road trips wat hy saam met sy familie mee gemaak het en waar hy al op ‘n jong ouderdom blootstelling gekry het aan bands soos The Beatles, Lindesfarne, Eric Clapton en Bob Dylan. Dit is dan ook nie moeilik om twee en twee bymekaar te sit nie, en ‘n mens kom vinnig agter juis waarom sy musiek deurweek is met ‘n eerlike opregte intensiteit en kwaliteit.
Luister mens na Gavin is dit maklik om aftelei dat musiek meer is as net die bloot ooglopende komposisie van klanke. Dit is ‘n ervaring, ‘n manier om te escape, om kreatief te wees sonder grense. In kort is dit ‘n leefstyl. Alles dien vir hom as inspirasie en niks is te klein om in mens se alledaagse lewe te infuse nie.
Sy influences strek oor verskeie genres. Bo en behalwe die bogenoemde paar bands is daar ook nou die onlangse ontdekking van ouens soos Django Reinhardt en verskeie Balkan musikante.
In sy eie woorde beskryf hy sy musiek as ‘n mengelmoes van Blues, Gypsy Jazz, Folk en Reggae. Dit is omtrent ‘n mond vol, maar in tye waar genres swaar onder komplekse klassifikasies deurloop, is hierdie een dan ook ‘n gepaste titel.
Van sy nuwe tracks is so aansteeklik dat ek al by tye gewonder het of my Discovery Card kroniese toestande dek. Die liedjies bly in jou kop maal en nie soos daai eks wat jou ‘n jaar terug gelos het nie. Dit laat ‘n soet nostalgiese nasmaak.
Gavin se musiek, veral sy akoestiese liedjies, het die vermoë om die avonturier en toeris in enige iemand te ontlok en mens sal moet keer om nie sommer in jou kar te klim nadat jy na sy musiek geluister het nie. Pak gerus van sy musiek in die volgende keer wat jy die langpad aandurf. Jy mag hom dalk net êrens langs die pad nodig kry.
Maar los vir eers daai karavaan by die huis en die gedagte om koers te kies in enige rigting. Jy mag dalk net iets mis as jy weg is. Gaan woon eerder een van Gavin se shows by.
Met sy Tanglewood kitaar het hy al menige show in en rondom Kaapstad aangedurf. Man alleen of deesdae met die hulp van twee goeie vriende wat hom back op dromme en baskitaar. Hulle slyp juis nou aan ‘n paar nuwe tunes wat hulle binnekort in Kaapstad se verskeie klubs en ander venues wil uit basuin. Gavin het ook onlangs draai in Durban gemaak om daar in die tropiese klimaat met sy talente te woeker.
‘n Vollengte album, Ideas Adrift Again, is op sy webwerf (www.gavincoetzee.com) beskikbaar, maar moenie jou gedagtes te ver laat wandel nie. Die man het beslis iets om te sê. Tussen die blues riffs en warm akoestiese klanke is daar ‘n deurlopende tema van vryheid wat nie deur sosiale omstandighede, norme of klassifikasies kan en mag onderdruk word nie. Moet egter nie ‘n tie dyed hemp oor sy kop trek en hom as ‘n hippie af maak nie. Daarvoor is sy musiek te deurdag en meesterlik aan mekaar geslaan.
Vryheid in vandag se dag is vir hom tog belangrik. Juis hier oor verkies hy om sy eie musiek op te neem. Hy beskou die recordings as ‘n bietjie rou, bietjie rough around the edges, maar is van mening dat dit die neiging in die mark geraak het om weg te beweeg van die groter record labels af en om dinge self te doen. En as musiek vir mens so belangrik is soos wat hy dit ag, is dit seker nodig om beheer daaroor te hou en om ‘n onafhanklike paadjie, wat jou by tye na aan die afgrond lei, te stap.
Vir ‘n een man produksie is die gehalte fantasties en die cd is goed afgerond. Die man se talente strek dus verder as net die run of the mill artist wat van ander mense afhanklik is om hom goed te laat klink. Hy doen dit sommer op sy eie en met oortuiging.
Soos dit goeie musiek betaam is dit al vanuit verskeie oorde raakgesien en het nie ongesiens onder die radar deur geglip nie. Sy musiek is al onder meer gebruik vir ‘n BBC dokumentêr, Cooked in Africa, en ‘n kortfilm met die titel A Fortunate Soldier. Hy hoop om eendag alleenlik op musiek te fokus en so tussen deur nog aan musiek videos te timmer.
Alhoewel Gavin self deur ‘n menigte aantal bands ge-influence is, kan en mag hy maar as inspirasie dien vir die volgende blink oog generasie wat binnekort aan die deur van roem kan klop.
Hoe lank sy musiek nog vir die groter meerderheid van ons doodgewone Suid Afrikaners versteek gaan word is net ‘n kwessie van ons eie vermoë om ware talent raak te sien in ‘n tyd waar middelmatigheid te maklik ‘n voorwaarde vir sukses geword het.
Hier het ons nie te doen met net nog ‘n Cash Crusader guitar junkie wat vir een musiek les gegaan het en nou dink hy is famous nie. Nee, hier het ons met iets heeltemal anders te doen. Hier het ons te doen met iemand wat deeglik bewus is van sy talente en dit nie op ‘n onbaatsugtige manier probeer uitbyt nie, maar eerder dit met ‘n passie uitlewe.
Een ding is verseker, Gavin Coetzee is hier om te bly. Gavin Coetzee is deel van die toekoms.

Ideas Adrift Again by Gavin Coetzee

No comments:

Post a Comment