Pages

Wednesday, May 4, 2011

Wild Tussen Die Heuwels

Ek jaag, want ek is haastig, maar die Vrydag middag verkeer doen sy bes om my so laat as moontlik te maak. Ek kry amper ‘n hartaanval toe ‘n trok voor my op Sir Louwry’s pas in swaai en mik na ‘n beroerte toe ek die soveelste rooi robot naby Tygervallei vang. Daar is sekerlik êrens in die nabye toekoms reeds ‘n hof datum vir my uit gesit soos wat ek die een pad reël na die ander verbreek. Die rede dat ek so haastig is? Die Heuwels fantasties stel hul nuwe CD by D’Aria in Durbanville bekend.

Te danke aan ‘n goeie vriendin, wat dit ongelukkig nie kon maak nie, het ek kaartjies gekry om hierdie spog geleentheid by te woon en dit nogals as gas van die radio stasie waar sy werk. Dit is nie ‘n geleentheid wat aldag oor jou pad kom nie. Ek maak dit gelukkig betyds en spring in ‘n stofwolk wat om die kar borrel uit om my so gou as moontlik by die vinnig groeiende massa aan te sluit.

By die hek wag daar drie jong dames op my. Hulle lyk skepties toe ek aankondig dat ek op die gaste lys is en teleurgesteld toe hulle uiteindelik my naam tussen die ander kry. My grap oor of hulle nie weet wie ek is nie vlieg hoog bo hul koppe verby en verdwyn saam met die son op die verste horison. Een begin onder die tafel grawe en ek hou my gereed vir wat sy mag uit ruk. Tot my verbasing stop sy ‘n CD in my hand. Ek glimlag en keer weer haastig terug na my kar, daar is immers nog ‘n paar minute oor voor die eerste show begin.

Ek vou die groen omslag met die goue embleem oop. Binne in is sketse van die ouens en hul dankbetuigings. Die lirieke vir elke song verskyn ook binne wat my bly maak, want daar is sekerlik niks so frustrerends wanneer kunstenaars ‘n ‘boekie’ bygee wat so dun is dat mens nie eers ‘n ordentlike sigaret daarmee sou kon rol nie. Ek het net deur die eerste song, Wilder as die Wildtuin gewerk toe die eerste band op kom.

Die stage, kompleet met ‘n massiewe big screen wat deurlopend musiek videos vanaf MK wys, is teen die rug van ‘n wyn kelder opgerig en onder op die groot oopte staan, sit of lê mense in die koel lug.
Die Tuin Dwergies sorg vir ‘n energieke oplewing, met die voorman, wat soos ‘n jong Anthony Kiedes lyk, bonsend op die verhoog. Die meerderheid van die mense sit steeds op komberse en kyk luierig na die show. Die klank is verbasend goed en dit is mooi skoon. Hier en daar kruip daar ‘n ‘take it away’ solo in en die kopstamp kinders gaan bos. ‘n Paar kry amper die floutes toe Pierre Greeff op die stage op kom vir die laaste liedjie.

Die Tuin Dwergies bedank die mense en dan verdwyn hulle van die stage af, waarheen weet ek nie.

Ek, en my vriend wat intussen by my aangesluit het, probeer die tyd met die hulp van ‘n bottel wyn omkry terwyl ons wag vir die volgende vertoning om te begin en terwyl ‘n paar tegnikuste die stage regkry. Ons let op dat daar ‘n paar ligte aan die stage hang wat soos jellievisse lyk terwyl ons na Incubus, Sytem of a Down en meer luister wat oor die luidsprekers dreun. Dan is daar stilte en die groot oomblik waarvoor almal gewag het, het uiteindelik aangebreek.

Ek mik vir die voorkant van die stage, enige volharde musiek geesdriftige se gunsteling plek, soos ‘n tennis speler se Wimbeldon of ‘n mode ikoon se Parys. Maar ek sukkel om deur die klipharde muur van tiener obsessie te breek. ‘n Gillende meisie of seun is ‘n vreesaanjaende gedierte wanneer hulle favourite band op die verhoog is.

Ek bly staan waar ek is, die veiliger opsie, en na ‘n tyd begin my kop ook ritmiese aangestaltes te maak.

Met elke liedjie lewer die vertoning iets nuuts op. Dit is soos om jou hand in ‘n lucky packet in te druk en op verrassende wyse ‘n nuwe skat daaruit te delf.

Die een na die ander bekende kunstenaar kom neem hul plek langs die Menere Fantasties op die stage in. Inge Beekman, van Lark faam, is eerste op en die liedjie Modus Operandi word op die proef gestel. Dan is dit Francois Van Coke se beurt om aan die gehoor Los My Uit op te dis. Selfs die vaderlike figuur van Coenie de Villiers is ‘n slag op die stage om die liedjie Wonder bo Wonder, wat sekerlik binnekort as die tema lied vir die volgende groot Afrikaanse fliek gaan wees, bekend te stel.

Die nuwe tunes is goed uitgedinkte feel good Afrikaanse mellow elektro rock (stop daai in jou pyp en rook dit) en is heel aanvaarbaar. Ek het tog meer verwag, maar dit is seker net omdat ek ‘n onervare Heuwels luisteraar is en nie ‘n klipharde ‘tattoo op my linker boud’ fan nie.

Dit is ‘n volronde vertoning met die lede van die band wat hulle rolle tenvolle uitlewe en presies doen wat van hulle verwag word. Ek kry die gevoel dat niemand vanaand teleurgesteld sal huis toe gaan nie.

Daar word afgesluit met Pille Vir Kersfees. Nou dans almal en selfs die ‘jellievisse’ maak sulke suggestiewe op en af bewegings met hulle lang skitterende tentakels wat tot amper op die vloer val.

Om ‘n gas te wees het sy voordele. Backstage passes is een van hulle. Terwyl daar ‘n onbeheerbare orgie by die ingang van die band area losbars flits ons eenvoudig ons armbande vir die wag en kry onmiddelik toegang. Ek kan nie help om te dink dat Suid Afrika uiteindelik sy Beatle mania fase beleef het nie, met mense wat oor mekaar klouter om net ‘n handtekening van hulle idols te kry. Vir ‘n oomblik lyk dit of die heining gaan ingee, maar dit hou.

Met my brein wat nou stadig funksioneer maak ek ‘n vinnig bewerking en kom uiteindelik by die slot som uit dat daar ongeveer 1.75 bekende mense per vierkante meter agter saam met ons vertoef. Pierre Greeff, Hunter Kennedy, Francois Van Coke, Johnny de Ridder, Coenie de Villiers, Inge Beekman. Daar is selfs ‘n ou wat soos Jack Parow lyk, maar net amper. Ons kuier daar en gesels met party van die ‘celebrities’ wat die toekoms van Afrikaanse musiek op hulle skouers dra. Dit het immers net vyf ouens gevat om destyds Afrikaanse musiek wat vir ‘n wyle stil was in die bek te ruk en iets unieks aan die mense te lewer.

Ek durf die volgende dag die lang pad Hermanus toe aan met net ‘n spoegsel brandstof in die tenk en goeie herinneringe. Wilder as die Wildtuin dreun oor die kar se eenvoudige radio stelsel en soos die kilometers verby rol begin die musiek ‘n houvas op my kry. Tog soek ek herhaaldelik na daardie een liedjie wat die innerlike dier in my gaan los laat en my laat bont staan om myself in toom te hou. Ek het dit nog nie gekry nie, maar ek weet ek sal.

Deur Conrad Basson

No comments:

Post a Comment