Pages

Wednesday, May 4, 2011

Kommin In Kirstenbosch


Soos maar met die meeste dinge in die lewe blom ek laat. Ek het in die hoërskool my eerste meisie ordentlik gesoen, op 22 eers my lisensie gekry en tot my groot frustrasie sukkel ek tot vandag toe om‘n volledige baard te groei.

Ek is dus opgewonde om na jare se gedreig en uitstel my eerste Kirstenbosch Summer Concert by te woon. Ek het al hoeveel keer in die verlede amper oor gegee aan die versoeking, maar net nooit sover gekom om dit te doen nie. Dit is tot nou toe en aan ‘n beter manier om my eerste show af te skop kan ek nie dink nie. Ek kyk weer na die kaartjie in my hand en smile toe ek die name vir die hoeveelste keer lees. Francois Van Coke en Jack Parow.

Ons is vroeg en dit is ook maar goed so, want parkering is so skaars soos soetgoed by ‘n weighless partytjie. Dit is nie verbasend nie aangesien die online kaartjies reeds die Vrydag uit verkoop was. By die hek word ons onseremonieel begroet deur ‘n horde angstige mense wat Angus die aartappel boer se massa vergaderings na ‘n plaas skool se saal byeenkoms laat lyk. ‘n Vriendin laat ons weet van ‘n ander ingang en ons volg haar raad met uitstekende resultate.

Vir ‘n mooier venue kon mens sekerlik nie gevra het nie met die area wat so skuins agter Tafelberg se rug ingewikkel is. Die atmosfeer is kalm, rustig en nie iets waaraan ek regtig gewoond is nie. Orals sit mense op komberse met piekniek mandjies by hulle voete.

Ek is verbaas oor die hoeveelheid kinners (sic) wat orals rond hang en voel ewe skielik baie ouer as my vyf en twintig jaar. Nie een van die twee acts op die agenda is juis moerse bekend vir hul uitmuntende maniere of etiket op die verhoog nie, maar dit is juis hoekom ek, en die meeste van die ander mense hier is. Ons het nie net vir die show gekom nie, maar vir die belewenis.

Francois Van Coke is eerste aan die beurt, ge-gear met sy akoestiese guitar. Hy word bygestaan deur die res van die lede van Van Coke Kartel, plus ‘n viool en chelo speler. Die musiek pas perfek by die atmosfeer, die rustige luim, asof dit spesiaal vir hierdie Sondag middag geskryf is.

Die mense maak hulle self gemakliker en luister hoe een na die ander hit van Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel oor die speakers dreun. Van Hemel Op Die Platteland tot Waaksaam En Wakker en ander kant uit. Van die mense wat die woorde ken sing saam en daar is ‘n lawaai na elke song. Tog kry ek die indruk dat die mense die opening act as ‘n by saak sien en net ‘n handjie vol mense staan voor by die stage.

Daar is ‘n verrassing aan die einde. Francois sit sy guitar neer en verwelkom die drie lede van Fokofpolisiekar wat nog nie op die verhoog is nie om hulle te join. Hulle sluit af met Ek Skyn (Heilig) en Francois swaai die mic gevaarlik bo sy kop rond en die res van die band doen ouder gewoonte hulle ding op die stage. Die laaste note word gespeel en Jaco Snake Venter gooi sy stokkies in die crowd in te midde van ‘n encore cheer deur van die meer desperate fans.

Dat Francois Van Coke die eerste act was sê baie van presies hoeveel Jack Parow in die laaste jaar vermag het. Dit sit nie in enige ou se broek of te wel boxer  om van die land se pioneers en beste musicians te kry om vir jou te open nie.

Die musiek vlam weer op en daar is beweging op die stage. DJ Naaldekoker kap dit op sy turntables uit. Orals spring die mense op en beweeg vorentoe asof ‘n moerse magneet hulle na die stage toe lok. Ons doen dieselfde en kry ‘n plek redelik na aan die voorkant. Ons sukkel steeds om verby die hordes mense met die lang keppe te sien. Voor my sit ‘n seun wat nie ouer as sewe kan wees nie op sy pa se skouers. Hy lyk opgewonde en roep Jack Parow ewe onskuldig uit.

Dan is die groot oomblik op ons. Jack kom six-pack in die hand op die stage op gestap. Die mense gaan mal en skree dat dit orals deur die suidelike voorstede weergalm. Dit is waarvoor die meeste hier is en die party gaan nou werklik begin.

Jack begin met Ek Wens Jy Was Myne. Iewers binne in my maak dit die versteekte trailer park gom tor wakker. Ek wou nog nooit so graag kommin wees nie. Ek skuif my broek ‘n paar sentimeter laer en was net reg om my hemp oor my kop te trek toe my vriend my keer. Los dit vir Jack kan ek sien wil hy sê.
Die set raak beter soos Jack sy groot gewere begin uithaal. Feite en Hier’s Hy Nou laat nog meer mense na die stage toe stroom. Dit raak benoud hier voor, maar ons bly staan. Ander hoogtepunte sluit Dans Dans Dans in en Tussen Stasies wat met die hulp van Die Heuwels Fantasies opgevoer word. Die gehoor gaan omtrent bos en in ‘n onbeheerste angsaanval in toe Cooler As Ekke begin. Ek probeer saamsing, maar kan nie by hou nie. Jack Parow is bloed rooi in die gesig soos hy die een woord na die ander oor die mikrofoon uit bulder. Die mense hang aan sy lippe.

Vir die laaste nommer doen Jack ‘n een vers improve en dan is dit klaar, te vinnig en te vroeg. Jack nooi almal na The Shack toe en verdwyn dan van die stage af. Die seuntjie sit nogsteeds op sy pa se skouers en skree nou verwoed vir Jack om terug te kom. Ek draai my rug op hom en gaan soek my vriende wat ek êrens verloor het.

n Half uur na die show verby is, sak die reën op ons neer, maar ons bly sit, nostalgies oor gebeure en besig om op te warm vir die after party. Toe daar uiteindelik net ‘n paar moeë sekuriteits wagte oorbly wat sukkel om die magdom vergete bier blikkies op te tel, besluit ons om ook te gaan. Die dag is verby en dit is tyd om ‘diep in Kaapstad se nag in te kruip’.

Artiekel deur Conrad Basson  
Photos deur Gavin Coetzee

No comments:

Post a Comment